Beter data, regeringsdepartemente wat verantwoordelikheid aanvaar en ‘n fokus op die eerste 1 000 dae van ‘n kind se lewe gaan noodsaaklik wees in Suid-Afrika se stryd teen verdwerging.
Dit is van die aanbevelings uit navorsing wat Dinsdag bekend gestel is by ‘n geleentheid wat die Universiteit Stellenbosch (US) aangebied het en deur die DG Murray-trust gefinansier is.
Die spesiale uitgawe van die vakjoernaal Development Southern Africa bevat studies van navorsers verbonde aan die US, Universiteit van Kaapstad, Universiteit van die Witwatersrand, Universiteit van Wes-Kaapland, Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, Nelson Mandela-Universiteit en Noordwes-Universiteit.
Bydrae is ook gelewer deur beleidmakers in die nasionale en provinsiale regerings, asook nie-regeringsorganisasies soos Grow Great, Heala, Do More Founda tion en Zero2Five-trust.
Verdwerging verwys na vertraagde groei waar ‘n kind te kort vir hul ouderdom is, wat dui op langtermyn- chroniese wanvoeding en ander gebreke in hul omgewing. Dit behels meer as net fisieke groei, maar ook breinontwikkeling en hoe kinders in die skool en later by die werk presteer.
Dié skade binne die eerste 1 000 dae van ‘n kind se lewe kan langdurige gevolge inhou, wat tot die volgende geslag oorgedra kan word, luidens ‘n beleidsopsomming van die navorsing wat verskaf is.
Beter insameling van data word veral aanbeveel omdat nasionale opnames wissel van tussen 20% en 30% van kinders wat aan verdwerging ly.
Pres. Cyril Ramaphosa het in sy staatsrede in Februarie ook die kollig geplaas op dié kwessie, wat die risiko van siekte onder kinders verhoog en hul vermoë om te leer en groei belemmer. Hy het benadruk dat dit nie net op die kinders en hul families ‘n uitwerking het nie, maar op die samelewing in geheel.
Ramaphosa het gesê ‘n veldtog sal vanjaar van stapel gestuur word om verdwerging teen 2030 te beëindig en wanvoeding onder jong kinders te bestry. Daarby het hy ingrypings beloof wat op die kindersorgtoelaag sal bou om toe te sien dat swanger vroue en kinders met ‘n lae geboortegewig die voedingstowwe inkry wat hulle benodig.
Die DG Murray-trust en die US het Dinsdag in ‘n verklaring gesê Suid-Afrika het van die hoogste koerse van verdwerging onder hoër middelinkomstelande wêreldwyd, met min wat oor die afgelope drie dekades verander het ondanks pogings om armoede te bekamp en maatskaplike toelaes wat uitgebrei is.
Prof. Ronelle Burger, van die US se Departement van Ekonomie, sê navorsing dui op geweldige maatskaplike en ekonomiese opbrengste wanneer daar in die uitwissing van verdwerging belê word.
“Dit is moeilik om te dink aan ‘n belangriker en maatskaplik voordeliger belegging om in die toekoms van Suid-Afrika te maak.”
Sy het benadruk dat dié ingrypings reeds voor geboorte en op ‘n baie jong ouderdom moet begin anders verminder dit die impak van vroeë kinderontwikkeling, skole en klinieke later in kinders se lewe.
Om die omvang van die probleem behoorlik te meet word gestandaardiseerde opnames wat nasionaal verteenwoordigend is benodig sodat koerse van verdwerging betroubaar gemonitor kan word.
Verder moet programme ook nie die kwesbaarstes oor die hoof sien nie, met navorsing wat daarop dui dat kinders wat hul biologiese pa verloor het (weens dood of afwesigheid) ‘n hoër risiko ervaar, luidens die verklaring.
Moontlike oplossings wat op groter skaal uitgevoer kan word, sluit in aanvullings wat met voorligting oor voeding gepaard gaan, sowel as beter toegang tot bekostigbare voedsel. Die gebruik van mobiele tegnologie word ook voorgestel sodat kinders se groei deurlopend gemonitor kan word.
Dit gaan ook vereis dat die private sektor betrokke raak, ondermeer met oorweging van die soort kos en formulemelk wat aan verbruikers bemark word, veral in lae-inkomste-gemeenskappe. Navorsing van die fondsbestuurder Tshikululu Social Investments het in Februarie bevind dat verdwerging onder kinders na raming ‘n gesamentlike ekonomiese las van R136 miljard tot R202 miljard op die land plaas, grootliks weens ‘n verlies aan inkomste en belasting, asook besteding op gesondheidsdienste en toelaes.
Nog ‘n belangrike faktor wat uitgewys word, is dat regeringsdepartemente op provinsiale en nasionale vlak moet saamwerk en verantwoordelikheid moet aanvaar omdat daar tans nie een departement is wat alleenlik daarvoor verantwoordelik is nie.
Die DG Murray-trust is ‘n Suid-Afrikaanse stigting wat daartoe verbind is om die land se potensiaal te ontwikkel, met 10 geleenthede waarop hy fokus om “uit die lokval van ongelykheid te ontsnap” en ‘n florerende samelewing te bou.
Die artikel is oorspronklink deur Die Burger en Netwerk24 gepubliseer op 23 April 2026.


