Suid-Afrika se vinnig toenemende voedselprysinflasie plaas die land se voedselsekerheid, veral vir voedsame kos vir ontwikkelende kinders, in groot gevaar.
‘n Reeks advertensieborde doen ‘n beroep op Suid-Afrika se politici, hul partye en voedselkleinhandelaars om dringend in te tree om die “nasionale noodtoestand” wat kinderhonger, die gevolglike wanvoeding en gevolglike verstandelike en liggaamlike agterstand sinvol aan te pak. Verder het reeds een it elke vyf Suid-Afrikaanse huishoudings nie toegang tot voldoende voedsel nie en hierdie situasie word erger as gevolg van die stygende voedselpryse. Dit is luidens ‘n gesamentlik verklaring deur die onafhanklike maatskaplik-ekonomiese ontwikkelingsentiteit die DG Murray Trust (DGMT) en die nie-regeringsorganisasie Grow Great, wat hom vir kindervoeding beywer.
Altesaam 300 advertensieborde wat bedoel is om die behoefte aan goedkoper basiese voedsame voedsel uit te lig en die nodige optrede van politici en voedselkleinhandelaars te eis, vorm deel van die veldtog. Dit is veral relevant voor Suid-Afrika se algemene verkiesing volgende jaar.
“Ons veldtog bevat ‘n reeks boodskappe wat kindervoeding as ‘n nasionale prioriteit vir openbare gesondheid, opvoeding en ekonomiese groei voorstel. Suid-Afrika het die slegste rekord van huishoudelike voedselonsekerheid teenoor ander middelinkomstelande met ‘n soortgelyke per capita bruto binnelandse produk. Die jongste nasionale opname, wat in 2016 gedoen is, het bevind dat 27% van Suid-Afrika se kinders onder die ouderdom van vyf jaar belemmerde groei het, wat ‘n aanduiding van verswakte breinontwikkeling is,” sê David Harrison, uitvoerende hoof van DGMT.
Die verklaring lui dat sulke kinders meer geneig is om skool vroeg te verlaat, om te sukkel om werk te kry en as volwassenes kan hulle dus in armoede leef. Die gevolg is opeenvolgende geslate kinders wat nie in staat is om hul volle potensiaal te bereik nie.
Harrison sê volgens die Wēreldbank is hoë vlakke van wanvoeding een van die hoofredes vir Suid-Afrika se treurige ekonomiese groei omdat die land nie ‘n voldoende mensekapitaalpyplyn het om produktiwiteit aan te dryf nie. Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte op lang termyn sal aansienlik verbeter as alle kinders genoeg voedsame kos het.
10 kossoorte, 30% goedkoper
Die veldtog deur die DGMT en Grow Great stel voor dat voedselprodusente, kleinhandelaars en die regering saamwerk om die koste van tien voedsame kosse met minstens 30% te verminder. Die kosse is eiers, droebone, lensies, blikkiesvis, versterkte mieliemeel, grondboontjiebotter, rys, amasi, sojamaalvleis, 4-in-1-sopmengsel en volroompoeiermelk.
“Die voorstel behels dat voedselvervaardigers en kleinhandelaars instem om af te sien van wins op ten minste een produketiket van elk van die ’10 beste inkopies’. Die regering sal dan sy steun toon deur ‘n rabat aan kleinhandelaars en vervaardigers te gee om dit te kan doen.”
Dr. Edzani Mphaphuli, uitvoerende direkteur van Grow Great, sê die voorsiening van goeie voeding kan nie net die verantwoordelikheid van Suid-Afrika se department van gesondheid wees nie. Dit vereis samewerking van die hele samelewing. “Ons rig ‘n versoek tot die regering, voedselprodusente, groothandelaars en kleinhandelaars om eensgesindheid met Suid-Afrikaanse gesinne te toon om die voedselgaping te vernou.”
Landbou.com het al herhaaldelik berg hoe Suid-Afrika se voedselprysinflasie teen ‘n kommerwekkende tempo aanhou sty. Die jongste statistieke meld dat April 2023 se gemiddelde voedselprysinflasie van 14,3% meer as dubbel die verbruikersprysindeks van 6,8% vir dieselfde maand was. Gedurende April 2023 was Suid-Afrika se voedselprysinflasie vir groente 23, 1% en vir brood en graan was dit 20,8%. Van alle voedselsoorte was slegs vrugte se 3,6%-verhoging laer as die van VPI in daardie maand.
Intussen berg die internasionale nuusagentskap Reuters dat die Franse regering beloftes van 75 voedselmaatskappye daar kon verseker dat hulle pryse op honderde van hul produkte vanaf Julie sal verlaag. Die Reuters-verslaggewers Benoit Van Overstraeten en Leigh Thomas skryf dat Franse owerhede “woedend is” dat supermarkpryse in dié land die afgelope maande rekordvlakke bereik het ten spyte daarvan dat pryse van baie grondstowwe wat in voedselproduksie gebruik word, gedaal het. Luidens die verslag sê Frankryk se minister van finansies, Bruno Le Maire, dat moonlike optrede hierdie voedselmaatskappye in die gesig staar as hulle nie hul beloftes nakom nie.
This article was first published online by Landbou.com on 12 June 2023. Read it here.